Afrikaans

Blomme steel in Potch

Byna ‘n kwart-eeu gelede, in Potchefstroom, was dit ons ding om blomme te gaan steel.  Dis pret, en blomme is mooi. Daardie tyd was dit kattekwaad, nie ‘n stuk of drie kriminele oortredings soos wat dit vandag sal wees nie. Een somersaand was dit weer sulke tyd.  Gewapen met ‘n skêr en ‘n emmer ry ons bo-dorp toe, waar die ou tuine was met die meeste, en mooiste blomme. Ek het daai tyd klas gekry by Prof Theuns Botha, wat behalwe vir bekendheid in die radiobedryf, ook bekend was vir die feit dat hy wen-irisse gekweek het. Nou kan julle al klaar sien waar die storie heen oppad is, al moet ek nou ook bysê dat ek nie geweet het waar hy woon nie.

Nou ja, so ry ons toe stadig deur die strate en steel hier en daar ‘n paar rose, angeliere en whatnots.  By een huis, in die lig van die straatlamp sien ek toe ‘n tuin met die mooiste irisse, en ek sluip daar in.  Ek kan sien hierdie is nie sommer net sulke irisse nie, so ek gaan sit op my hurke, versigtig om nie die plante seer te maak nie, en ek sny ‘n paar van die mooi pers blomme af.  Die volgende oomblik staan daar twee skoene en bene in ‘n donker broek voor my.  Ek kyk stadig op en in Prof Theuns se oë vas.  Ek wil my vandag half verbeel daar was ‘n sweempie van ‘n amusante glimlag op sy gesig, maar dit is waarskynlik net dit – my verbeelding.

Nie een van ons sê ‘n woord nie.  Ek staan op, met die irisse in my hand.  Prof Theuns stap in die tuinpaadjie af tot by die hekkie, maak dit oop en staan opsy dat ek kan uitkom.  Ek mompel iets in die lyn van jammer prof koenaait prof en spring in die wagtende getaway-car met die blomme steeds in my hand. Ek beveel my vriendin om met skreeuende bande weg te trek soos in die moewies. Wat sy natuurlik nie gedoen het nie, maar die blomme stelery vir die aand was oor.

Die volgende dag sit ek redelik verleë in prof Theuns se klas, maar hy gaan aan net soos altyd, asof niks gebeur het nie. Nie ‘n woord oor die irisse nie. Op ‘n stadium begin ek ontspan en myself selfs so half oortuig dat hy my dalk nie herken het in die donker nie. Teen die middel van die periode is ek oortuig hy het nie.  Dis toe dat hy so terloops opmerk dat hy bly is om te sien mense wat sy irisse steel gebruik ‘n skêr en vernietig nie sy plante nie.  Sonder om vir my spesifiek te kyk of enige so-iets.  Net die een sinnetjie wat oor al die ander studente se koppe is, maar nie oor myne nie, en toe gaan hy aan met sy les.

Hy het geweet ek het myne baie deeglik geleer…

Tetris in die Parkeerterrein

As humanis probeer ek altyd mense se gevoelens in ag neem, maar hier is my stukkie “inhumanism” vir die dag.

Ek ry ‘n motorfiets. Niks fancy nie, net ‘n klein 200cc Motomiatjie, met sy eie storie. Nou kyk, ons wat bike ry weet al hoeveel groceries jy kan koop en iewers in jou rugsak of op die bike inpak, vasgespe, of saamsleep.  Dan soms, op ‘n winderige Sondagoggend gaan jy “gou” Checkers toe.  Jy kry al die goed wat jy moet kry en in jou kop speel jy al Tetris, soos Lenie altyd sê, om seker te maak jy sal jou inkopies by die huis kan kry.  Skielik is die rys wat gewoonlik R180 is, R18, of so iets, en jy het 2 nodig.  Jou tetris level skuif op, maar jy dink jy is nog okay, en dan… ooooeeee, die cupcakes lyk darem maar lekker…

By die kasregister glimlag die vrou agter jou en vertel dat sy en haar man ook bike ry en hulle het nou gestaan en debatteer oor hoe jy al daai goed op die bike gaan kry.  Julle lag saam oor die Tetris grappie en jy stoot jou trolletjie uit terwyl jy self wonder of jy nou nie die keer effens van jou trollie af is nie.

Nou kom jy in die parkeerterrein, maak die top box oop en begin om die 2 pakke rys heel onder in te pak.

Die Horison Man kom aangestap vir jou trollie.  Jy smile vir hom, en sê:

“I am going to take very long.”

Hy sê niks, maar kyk jou aan asof jy OCD het, of beslis heeltemaal van jou trollie af is omdat jy die goed staan en sorteer in twee hopies in jou trollie.  Want sien, party moet in die boks in en ander in die rugsak in.

Dan wil hy skielik help, en kom krap eintlik net jou sisteem deurmekaar.

“It’s okay,” sê jy vir hom, “I’ll do that but it is still going to take a long time, so maybe you can come back for the trolley in a while?”

Hy sê nogsteeds niks, en jy pak die hoender en suiker en ander goed bo-op die rys, en tetris ‘n koekie seep en ‘n pakkie suurdeeg in ‘n gaatjie in. As jy omdraai hang die Horison Man bo-oor daardie trollie asof dit happy hour in die pub is. Sy uitdrukking sê vir jou hy kyk na die 4 trollies wat nou al in die parkeerplekke langs jou agtergelaat is, en dink, my fok, ek kon daardie trollies nou al by Checkers se hoofkantoor self gaan parkeer het.

Jyself begin nou al krapperig raak, want hy hang net daar en jaag jou woordeloos aan, en jy kom nou eers by die brood en die cupcakes.  Jy wens hy wíl fokof hoofkantoor toe.  Die brood en cupcakes gaan vanself reverse-engineer en weer soos meel en suiker ens lyk as jy dit nou nog harder met die boks se deksel squeeze. Dan moet jy nog jou 2 baadjies en die geel reflection-dingetjie aantrek, helmet en sonbril opsit, handskoene aantrek en vasmaak, handskoene weer uittrek want jy het die sleutel in jou sak gelos en kry hom nie raakgevat nie… Handskoene weer aantrek, in jou rugsak inklim…,

Nou skielik sê die Horison Man: “Take your time Madam,” en jy kan nie besluit of hy nou sarkasties is of nie en jy wil hom met ‘n blik baked beans gooi, want kon hy nie reg aan die begin gesien het jy wil jou tyd vat, en geloop het nie?  Die hele parkeerterrrein staan nou al vol trollies en hy lyk of dit nou alles jou skuld is, en hoe laat gaan hy nou vanaand by die huis kom as jy hom so uit sy werk uit hou?

Dan besef jy, om nou vir hom ‘n tip uit te grawe gaan nog 5 minute vat, en jy voel sleg, maar jy ry net weg en gaan eet ‘n cupcake by die huis.  Jy sal hom maar volgende keer dubbel tip. Sy naam is André en hy is altyd daar. Jy sal ook volgende keer onthou om die baked beans tot laaste te los vir ingeval jy dit nodig kry.