Blomme steel in Potch

Byna ‘n kwart-eeu gelede, in Potchefstroom, was dit ons ding om blomme te gaan steel.  Dis pret, en blomme is mooi. Daardie tyd was dit kattekwaad, nie ‘n stuk of drie kriminele oortredings soos wat dit vandag sal wees nie. Een somersaand was dit weer sulke tyd.  Gewapen met ‘n skêr en ‘n emmer ry ons bo-dorp toe, waar die ou tuine was met die meeste, en mooiste blomme. Ek het daai tyd klas gekry by Prof Theuns Botha, wat behalwe vir bekendheid in die radiobedryf, ook bekend was vir die feit dat hy wen-irisse gekweek het. Nou kan julle al klaar sien waar die storie heen oppad is, al moet ek nou ook bysê dat ek nie geweet het waar hy woon nie.

Nou ja, so ry ons toe stadig deur die strate en steel hier en daar ‘n paar rose, angeliere en whatnots.  By een huis, in die lig van die straatlamp sien ek toe ‘n tuin met die mooiste irisse, en ek sluip daar in.  Ek kan sien hierdie is nie sommer net sulke irisse nie, so ek gaan sit op my hurke, versigtig om nie die plante seer te maak nie, en ek sny ‘n paar van die mooi pers blomme af.  Die volgende oomblik staan daar twee skoene en bene in ‘n donker broek voor my.  Ek kyk stadig op en in Prof Theuns se oë vas.  Ek wil my vandag half verbeel daar was ‘n sweempie van ‘n amusante glimlag op sy gesig, maar dit is waarskynlik net dit – my verbeelding.

Nie een van ons sê ‘n woord nie.  Ek staan op, met die irisse in my hand.  Prof Theuns stap in die tuinpaadjie af tot by die hekkie, maak dit oop en staan opsy dat ek kan uitkom.  Ek mompel iets in die lyn van jammer prof koenaait prof en spring in die wagtende getaway-car met die blomme steeds in my hand. Ek beveel my vriendin om met skreeuende bande weg te trek soos in die moewies. Wat sy natuurlik nie gedoen het nie, maar die blomme stelery vir die aand was oor.

Die volgende dag sit ek redelik verleë in prof Theuns se klas, maar hy gaan aan net soos altyd, asof niks gebeur het nie. Nie ‘n woord oor die irisse nie. Op ‘n stadium begin ek ontspan en myself selfs so half oortuig dat hy my dalk nie herken het in die donker nie. Teen die middel van die periode is ek oortuig hy het nie.  Dis toe dat hy so terloops opmerk dat hy bly is om te sien mense wat sy irisse steel gebruik ‘n skêr en vernietig nie sy plante nie.  Sonder om vir my spesifiek te kyk of enige so-iets.  Net die een sinnetjie wat oor al die ander studente se koppe is, maar nie oor myne nie, en toe gaan hy aan met sy les.

Hy het geweet ek het myne baie deeglik geleer…

Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.